Thursday, 5 April 2012

Legkaarte

Die afgelope twee weke in my lewe was wonderlik. Daardie lugkastele wat mens elke aand bou, omring met bottels rooiwynriviere, het werklik geword. Moses Metro Man het die toekenning vir 'Beste Nuweling' by hierdie jaar se MK Awards verower. Om in so 'n ongelooflike sterk groep genomineerdes as wenner weg te stap, maak dit nog meer spesiaal. Om dit te kroon was ons ook bevoorreg om lewendig op te tree by die seremonie.

Hierna het ons vertrek op 'n toer, wat afgesluit het met die feestelike KKNK. Pretoria, Bloemfontein en Port Elizabeth het gesorg vir hope opwinding en kopskud oomblikke met ander bands soos Black Cat Bones, All Will Fall en Huis Najaar wat onderskeidelik saamgespeel het. Moses Metro Man se grootste wapen, Christiaan (Secret)Wepener, ons klankingeneur het seker gemaak dat alle groen mannetjies (tegniese hindernisse) nie die atmosfeer belemmer nie. Met die gasvryheid van Pedro in Bloem, Hugo, Jono, en 'die kiefkatte' in Port Elizabeth was ons reg vir die langpad af Oudtshoorn toe.

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. My gunsteling fees. Met die reuk van karoo en roosterkoek gemeng met klanke vanaf 'backtrack' kunstenaars regdeur tot jonges wat langs die pad sit en 'Skarumba' remix met 'dis lekker by die kunstefees'.

My eerste een was in 2006 saam met Flipacoin, daarna saam met Die Rottweilers. In 2011 saam met die 'Boegoe vannie liefde' produksiespan , en nou saam met my Moses Metro Man troepe, Christiaan en Edwin Token Moses as seremoniemeester. Ons het 3 shows gehad, een op die RSG verhoog en twee op die MK verhoog by Lemon&Lime.

Ek was gelukkig genoeg om tussendeur al die opwinding ook tyd te maak vir teater shows. Met my vriend Francois van Rensburg aan my sy het ons Coenie de Villiers se 'Hart van Glas' gaan kyk. Ek moet eerlik wees, hierdie vertoning het my geweldig geraak. Coenie het stories vertel, die stories agter die kap van die liedjies en die wat hy persoonlik ervaar het. Met 'n band wat bestaan uit Suid-Afrika se bestes het hy die gehoor betower. Ons het ook 'My pa dink hy is Elvis' en ' 'n Vrou vantevore' gaan kyk waar Brumilda van Rensburg, Stian Bam en die res van die cast uitstekende spel gelewer het.

In my skik met die afgelope paar weke wonder ek toe daardie aand in my tent, op Francois van Rooyen hul se grasperk, hoe vreemd die lewe parykeer met ons werk. Een oomblik loop alles skeef, en die volgende oomblik is alles te goed om waar te wees. 'It never rains but it pours'- hetsy of dit goed of sleg is.

Op daardie laaste aand by Lemon&Lime wag ek by die bar om nog 'n Windhoek te bestel. Nog voordat ek kon praat val die swart kroegman my in die rede. 'How much do you ask for a cd'? 'You know I worked at the door the previous time with your show, and I really want your cd', en toe besef ek...-daardie kleiner oomblikke in die lewe, is waaroor dit gaan. Nie die oomblikke waar alles perfek loop nie, maar eerder daardie oomblikke waar die kroegman wat nie afrikaans praat nie, sy geld bymekaar skraap om jou cd te koop.

Ons almal bou legkaarte met ons lewensplanne en doelwitte. Meeste se buitelyne is reeds getrek, maar dis die middel waarmee ons sukkel. Ons raak ongeduldig as elke week nie 100% vlot verloop nie. Ons raak kwaad as dinge skeef en nie volgens plan verloop nie. Maar dit is nie die perfekte tye wat die middel van die legkaart voltooi nie. Dit is die mense wat elke dag oor die pad van jou lewe kom wat die middelste deel van jou legkaart voltooi. Die mense wat die klein dinge in jou lewe laat saakmaak.

Die afgelope twee weke in my lewe was wonderlik. Daardie lugkastele wat mens elke aand bou, omring met bottels rooiwynriviere, is deur die mense om my bewaarheid. Die mense wat eendag saam die stories gaan vertel. Die mense om my wat die middelste deel van my legkaart voltooi.
 
 

Thursday, 9 February 2012

Ons eie 90210 in die Brooklyn Mall

Uit ouder gewoonte bevind ek myself toe weer by 'n koffiewinkel. Daar waar ek my grootste verslawing voed en moederlik koester. Die keer by Mugg & Bean in Brooklyn. Die grootste fout wat hulle ooit kon maak was om 'n 'bottomless' opsie vir koffie op die spyskaart te plaas. As die kelner maar net geweet het wat 'bottomless' op hom wag!

Rondom my swerf daar tientalle gesprekke . En dit voel of ek soos 'n wafferse animasiekunstenaar raampies met spotprentborrels wil trek. Ek leen toe my ore uit en luister na twee middeljarige vroue.

-(Mevrou X gesels hoogmoedig en kou dan met 'n aangename postuur. Sy luister hierna aandagtig en glimlag vergenoegd. Sy knik dan met 'n sywaartse beweging. Soos wat haar handgebare swaai, verblind haar kombinasie van duur juweliersware en gemanikuurde naels my, alhoewel, in retrospek, is dit om te beïndruk, natuurlik.)

As ek die scenario hier kon pause, is ek oortuig daarvan dat ek fisies die oordeel afguns wat uit haar oogkaste drup sou kon aflek en uitspoeg.

-(Mevrou Y sluk dan grasieus en vroulik haar tee, trek elke nekspier saam om oortuigend haar vriendin se staaltjie uit te stof met 'n beter storie. Die reuk van vars salonparfuum vlug die ruimte in soos wat sy dan haar groot handsak met haar groot manlief-beursie oopruk om die rekening eerste te onderskep.)

So duur die tennisgeveg voort terwyl ek my derde 'bottomless' bestel. Die geveg om geluk, sukses en om die beste te wees.

Almal van ons beny soms ons vriende se situasies en geluk. My groot vraag is net, wat is vir mense belangrik? Wie is nou eintlik gelukkig? Want sien, tog is daar 'n vorm van benyding wat agter beide Mevrou X enY se 'getinte' ruite deursyfer.

Mense smag na herkenning en erkenning. Erkenning in dit wat hulle doen, sodat hul sekerheid kan ervaar en kan slaap in die aande. Elke mens staan iewers by daardie kruispad. Om dit te doen wat jou hart aanvoel, of om dit te doen waar jy erkenning en herkenning gaan geniet. Die erkenning in die vorm van 'n stewige bankbalans, en die herkenning in jou familie as die suksesvolle een.

Dit gaan uiteraard ook soms gepaart met:" kou met 'n aangename postuur, luister aandagtig en glimlag vergenoegd. Knik dan met 'n sywaartse beweging ".

Soveel van ons maak verkeerde besluite op grond van wat die norm verwag. En na 'n tydperk word die prys ook betaal met: 'benyding wat agter daardie 'getinte' ruite deursyfer".

Ek persoonlik is 'n voorstaander daarvan om 'n bestaan te voer deur na jou hart te loer. Of jy nou die rol van die Mevrou X of Y vertolk, volg jou hart. Dit is slegs wanneer jy in jou eie oogkaste inloer, en eerlik is met jouself, dat jy werklik 'n verskil kan maak. Daarna kom die erkenning en herkenning vanself. Dan sal jy verbaas wees hoe gemaklik jy na ander se stories luister, en dit waardeer. Want kyk, ons almal het mekaar nodig, selfs die middeljarige vroue in Brooklyn se Mugg & Bean.