Sunday 15 December 2013

Vaarwel Madiba, Potch en 2013..


 
'Daar is 'n tyd van kom, en 'n tyd van gaan. Dit het ek gelees maar hoe sal ek dit ooit verstaan?'. Hierdie woorde van Laurika klop al 'n geruime tyd aan my deur. En hoe meer ek daarvan af wil wegkom, hoe meer spook dit by my. Ons hou mos nie van verandering nie. Ons hou daarvan om te behoort, en om veilig te voel. Miskien is dit in die arms van 'n geliefde, of miskien in die gemak van jou binnekamer.

2013 was egter vir my 'n jaar vol onveiligheid en interessante verrassings. En ek weet vanuit talle gesprekke met baie van julle, dat julle deel in my ervaring.

Vir tien jaar was my voete geanker in die pragtige akkerstad, Potchefstroom. Daar het ek geleer soen, musiekmaak en die betekenis van John-Henry se woorde: 'slimpraatjies met Proffies' in diepte leer verstaan. Ek het my mense daar ontmoet. Ek het my mense daar gegroet.

Gelukkig skryf elkeen sy eie storie. Ons self bepaal met watter pen, en in watter skrif. Ons self bepaal wie ons inskryf, wie ons uitskryf, of ons gaan terugblaai & doodkrap, en of ons eerder 'n nuwe boek gaan begin skryf. Dit is iets wat Madiba vir my geleer het, wat ek vir altyd saam met my sal dra. Dat ek self oor die krag beskik om 'n beter mens te wees, en met kennis & wysheid van die verlede, die regte storie te skryf.

Vriende, ek groet julle in 2013 met 'n dankbare hart. Dankie vir elke bietjie ondersteuning, met elke song, elke show, en elke stukkie teks.

Die van julle wat ek gegroet het, miskien sal ons paaie weer kruis. Die van julle wat ek ontmoet het, kom loop saam met my die pad. Want wat is ons stories tog werd sonder mekaar.
Ek wens elkeen van julle 'n besonderse nuwejaar toe. Ek drink graag 'n glas wyn op elkeen van julle. Ek sluit af met iets wat ek geskryf het vir Potchefstroom. As alles goedgaan behoort ek hom in 2014 vir julle te sing :-)
 
 
 
 
 
Mooirivier
 
Ek het geloop
op die grond waar liefde wen,
in die hartjie van die aardklop
onder die bal van Totius se pen..

Ek het geleer wat,
wat vrede is vir myself..
oor Calvyn en Kerkorrel,
is daar diep, diep gedelf..

So stuur my in 'n rigting,
want stroom-op sal ek bly..
eenmaal in altyd
vloei die Mooirivier deur my..

Jy praat met my,
en jy vat my om die lyf..
jou aande oor die bulte
hou ek in my arms styf..

So ek sing vir jou,
sodat die reen jou sal oorval..
totdat die sonskyn en die blare
op jou kinders neer sal daal..
 
 
 
Groete & Liefde,
Jako

Thursday 19 September 2013

Die T-woord...

Ek loop al 'n geruime tyd met die idee om iets te skryf oor troues. Aanvanklik wou ek skryf oor vreemde dinge en situasies wat ek al beleef het, jy weet, die moets en moenies. Soos byvoorbeeld om op jou troue te sing saam met 'n backtrack, en dan in die verkeerde key in te val, is 'n no-no. Of om met tant koek-se-hoenderhaan-krete die ou stem van Suid-Afrika uit volle bors te begin sing, is ook 'n no-no. (Ons leef in 2013)

Maar toe kom ek tot die besef, dat dit 'n voorreg is om te trou, en dat jy op daardie dag, enige iets kan aanvang wat jou gelukkig maak. Dis 'n voorreg om iemand so lief te hê dat jy so 'n dag en jou lewe met hul wil vier. Dis jou party!

Maar hoekom is ons so bang daarvoor?

As jy voel dis reg, doen dit! Vra haar!

En as hy jou vra, en dit voel reg, gee die regte antwoord!
Ons leef in 'n tyd waar almal insae in jou lewe het. Elkeen het 'n opinie wat hy graag op facebook of twitter of sommer by 'n braai met almal deel. Mense sê of : 'Haai hulle is te jonk om te trou', of :'Heerlikheid hulle gaan nie lank hou nie' of 'kan jy glo hulle ken mekaar skaars'. Op die ou einde sal daar altyd iets gesê word. As jongman/vrou word mens dikwels banggepraat oor daardie gevaarlike T-woord. Wel ek het een algemene gedagte daaroor. Fok daardie mense wat trou 'n sonde & taboe gemaak het.

Moenie in 'n leeukuil inloop nie, maar as jy wil trou, trou! Moenie alles te veel kompliseer nie. Dis jou lewe, wat jy moet leef. So wees gelukkig! En glo my, die dag as jy besef jy het te lank gewag, word daar 'n dolk in jou hart ingeboor. Dan is daardie persoon se tassies gepak!

Jy bly steeds dieselfde persoon, met dieselfde career, en dieselfde kwaliteite. So ontspan, dis nie asof iemand jou persoonlikheid steel nie. Hoekom wil jy dan nie jou geluk deel nie?

Aan al die pasgetroudes, geluk! Aan al die amper-getroudes, julle sal nie spyt wees nie! Aan al die pessimiste, knip die boeie wat jou terughou, julle weet nie wat julle mis nie!

PS- om op jou troue te sing saam met 'n backtrack, en dan in die verkeerde key in te val, bly 'n no-no... :-)