Monday 27 January 2014

Die meisie met die pienk parfuum..



Danksegging aan 'n vreemdeling:

'n Vreemdeling. Iemand wat geen kennis dra van jou bestaan, tot op daardie eerste oomblik van ontmoeting nie. Geen kennis oor watter snelweg, grondpaaie of afdraaipaaie jy tot op daardie stadium geloop het nie. Sy, was 'n vreemdeling.

Ek het nog altyd die gevoel gehad dat ek gejaag word deur iets. Hetsy deur die twaalf ronde nommertjies wat nie slaap nie, my sondes, of die wind. Want net die hoogstes voel die wind.

Die lewe is nou maar eens 'n mallemeule, het my ma destyds vir my geleer. Hy maal jou. En soms maal hy jou situasie met twee. Dan draai jou wêreld nie net in die rondte nie, maar selfs heeltemal onderstebo.

Ons is aanmekaar gesit om kwesbaar te kan wees. En daar is niks daarmee fout om kwesbaar te wees nie! En ook nie om soms jou kop te verloor in die proses om jouself weer te leerken nie! Maar moenie die plot verloor nie. Ek het. Ek het die bottel in die gesig gestaar en amper afgeval. En wie sou kon dink dat 'n vreemdeling my sou kon red. Iemand wat my nie eers ken nie. Iemand met impak, wat reguit en prontuit praat sonder om my in kombersies toe te draai. En dit, is wat mens partykeer nodig het om weer wakker te skrik. Ons is self verantwoordelik vir ons aksies, ongeag wat die lewe op jou pad gooi.

Mens se  wêreld draai soms nie net in die rondte nie. Die meisie met die pienk parfuum het my  wêreld onderstebo gedraai. Sy is vandag nie meer 'n vreemdeling nie. Haar parfuum sal vir altyd aan my leathers vaskleef.

Miskien het jy vandag 'n vreemdeling op jou pad nodig. Wees geduldig, daar wag miskien iemand net om die draai.