Thursday 23 September 2021

Dagbreek Doolhof: Deel 2

 

Daar is 'n lig. Daar is 'n dagbreek wat hierdie donker gat so belig dat dit lyk soos die ewigheid wat op ons skyn. Wat 'n interessante paar weke was dit nie. Na nog 'n lockdown in Julie, was dit nodig vir opwinding en positive vibes! Ek het nuwe mense ontmoet, een van my vriende (Nam) is getroud, en Potchefstroom het weer my hart gesteel. Riaan en sy crew by die bar in Loopstraat het my weer hoop gegee, dat ons as mense, mekaar nog nodig het.

Deel van daardie lig was 'n Fokofpolisiekar show by Railways in Irene. Fokof is die regte pioniers en dit was besonders om hulle weer te sien, en bietjie hand-ommie-lyf met Francois te gesels. Natuurlik was dit ook 'n hoogtepunt om Zebraman vir die eerste keer live te sien.

Ek was weer in die ateljee saam met Johan Viljoen, met 'Ek vier jou, ek groet jou' & 'My hande' wat gebore is. Twee uiteenlopende songs, wat goeie terapie was vir my om finaal afskeid te neem van 'n hoofstuk. Die volgende deel van die doolhof. Die deel waar die lig weer skyn. Nuwe lewe, nuwe geleenthede, nuwe liefde.

Hier is 'Ek vier jou, ek groet jou' se lirieke-
en jy kan hom hier luister:

https://jakomeyer.hearnow.com/ek-vier-jou-ek-groet-jou



Ek vier jou, ek groet jou

Ons staan alweer
die koue stoep die ligte reën,
mooiste beminde voor die verkeerde deur
geliefdes en die naastes
profete en die kwaadstes weet
ons het probeer verander
net soos wat die Here weet-

maar vir nou het ek stil geraak,
dis net die sterre wat sink vanaand-

En ek, ek weet ek moet groet vanaand
probeer aan die slaap te raak
Ek vier jou ek groet jou,
Mag hy jou ook vashou soos ek kon maak-

Koue winters wag nou
woestyne waar ek aanhou sweef
my liefde my beminde
dis hier waar ons moet groet en weet

Ons het nou stil geraak,
en die sterre lê stil vanaand-

Wees veilig-
Baie liefde,
Jako


Monday 14 June 2021

Ons is Middernagbewoners

  

 

Met 'n oordonnerende gevoel van opgewondenheid is ek en Austin Hulme twee Donderdae terug hier weg. Met sewe vertonings in twee weke, het dit vir 'n oomblik gevoel asof dinge weer terugkeer na normaal. Vinnig het die Noord-Kaapse grens op die Oranjerivier daardie gevoel gedemp met 'n pap wiel as verwelkoming. Na 'n gesukkel is ek en Austin deur die gasvryheid van tannie Jackie by Horse & Mill gastehuis in Colesberg ontvang. Vroeg uit die vere moes ons toe wikkel om betyds te wees vir 'n onderhoud by Bok radio. Ons stop op Beaufort, om nog 'n band aan te skaf. Mense maak oor die algemeen die aanname dat Deon Meyer, deel is van die Jako Meyer & Deon Meiring toer. Nadat ek vir die vriendelike man wat ons toe nou help met die wiel, verduidelik dat Deon Meyer wel nie my pa is nie- is ons daar weg. 

 Met die onderhoud wat reeds begin het met Deon (Meiring), het ek & Austin dit darem gemaak. Kyk, die Kaap is nou maar net betowerend. Daardie berge, dale, wingerde en gange- Met Deon & Zinelda wat ons soos Konings inwag, het ons die skoonheid van hul tuiste in Wellington ingeasem. 

 

Die eerste van ons vertonings was vir 'n groep tieners in Wellington. Ons moes hard werk om hulle oor te wen. Maar ons het. Daardie aand het ons vir Deon skade gemaak met 'n paar bottels Wolftrappe, en gefilosofeer oor menswees, die bedryf en waarheen ons op pad is.

 

Marianne Wynplaas was volgende op die spyskaart. Met 'n vol gehoor was die toer in volle swang. Deon se set was vuurwarm, en dit was veral lekker om ou vriende soos Babette Viljoen weer in die gehoor te sien. Die aand het op 'n hoogtepunt geindig met uitstekende wyn, in die Meirings se kombuis.

 

Die Sondagoggend vroeg vertek ons na die Strand vir 'n huiskonsert by Danie van der Merwe se huis. Met die koue Kaapse luggie, braaivleisvure wat oor die erf trek, sluit ons die Kaapse been van ons toer af met stories, nuwe vriende en samesyn soos net die Kapenaars dit kan doen.

 

Na 'n week se rus, het ek vir die eerste keer my eie materiaal met 'n vol band gespeel by Teen die Water, saam met Spoegwolf. My maat Marno van der Merwe is die breinkrag agter hierdie geleentheid. Na twee lekker shows, was dit tyd om bietjie op te vang met die Spoegwolf ouens, en nuwe vriende wat ons backstage ontmoet het. Ek, Albert, Hiram & Johan Viljoen is amper toe nou daar weg saam met mense op 'n boot- gelukkig het dit nie uitgewerk nie- anders was ons dalk nou nog iewers op die rivier.

 

Ons het die toer hierdie naweek afgesluit met 'n vreemde show in Vanderbijl, en een vir die boeke by Divan Coetzer van Buuren se TLC on the Track in Sandton.

 

Te midde van die derde vlaag, was dit so lekker om weer bande met mense op te tel, saam te lag, saam te huil, en net weer klank te kon maak op 'n verhoog. Dankie aan almal wat aandeel daarin gehad het. Van hier af is ek terug in studio, met 'Ek vier jou, ek groet jou' wat binnekort vrygestel word.

 

Ons is Julie weer op die pad- tot dan, wees veilig, lief vir mekaar & draai die musiek kliphard.

 

 

Liefde,

Jako

 

 

 

 

              

 

 

 

                           

 

                           

 

                                      

 

 


Tuesday 4 May 2021

'n Mens bly 'n mens

 Dis 2012. Desember. 

Ons is op een moerse toer. Negentien dae, vyftien shows. Tientalle bands. Show nommer dertien, two to go.

Teen hierdie tyd is ek redelik uitgekuier en soek 'n hoekie in Mosselbaai se Barnyard, net om bietjie asem te skep. Ek loop in Deon Meiring van Glaskas vas. Hy het min of meer dieselfde idee. Om net 'n bietjie weg te breek van die party. 

Ons gaan sit, bestel 'n bottel rooiwyn, en gesels digkuns, filosofie in musiek en net allerhande lekker dinge. In die stilligheid, is dit wat ek en hy daardie aand nodig gehad het om te oorleef, want sien, 'n mens het basiese behoeftes, en 'n bly 'n mens. 

Min het ek geweet ons sou goeie vriende word, en later sommer ook teaterprojekte saam aanpak in die vorm van die Wyndigters. Deur die grendeltydperk was daar talle skypesessies om positief te probeer bly. Ons is daardeur, en nou, is ons besig om daaruit op te staan.

Na 'n lang ruk van stilte sonder enige shows, het ons besluit om verlede week drie shows te speel. Ek, Deon, en Austin Hulme saam met my op kitaar.

Die Donderdagaand was ons in die Afriforum teater (die ou Brooklyn teater). Wat 'n vars asem! Mens stap in die mooiste voorportaal in. Professionele personeel, met Carien wat die teater seepglad bestuur. Soveel van my alternatiewe vriende is maar nog sku, omdat dit die Afriforum teater is. Al wat ek sê is dat mens nie met alles van die organisasie hoef saam te stem om te sien dat hulle die kunste wil bevorder nie. Min ander rolspelers het opgestaan om werklik iets daadwerklik te doen vir die kunste in hierdie tye.

Ek het die aand begin met 'n lekker gehoor. Een van die moeilikste shows van my lewe, na my verlowing wat verbrokkel het. Vir die eerste keer in ses jaar, was sy nie in die gehoor nie. Nadat ek 'Ingelein' in die set oorleef het, was dit gelukkig 'n fees.

Deon was op na my en die gehoor was soos duiwe wat vir die eerste keer in 'n lang ruk sielskos gekry het. Met sy stories oor Sunnyside & liriekbelaaide solo-materiaal, het die aand op 'n hoë noot geeindig.

Vrydag is ons vroeg uit Pretoria uit om in Texas Bar, Potchefstroom te speel. Na 'n besige dag is ons na die venue toe om deur die legende homself, Jonathan Wayne ontvang te word. Rooksein speel voor ons. Ek doen 'n lekker set, met die studente wat hier en daar skadu's van Moses Metro Man onthou. Deon kom op en gooi Potch papnat met sy Glaskas & Dans Dans Lisa treffers. Ons sing Hillbrow saam, en eindig met 'n collab van 'Gisteraand'. 



Op pad huistoe, gryp Deon my, en stel voor dat ons een laaste glas wyn by sy familie moet gaan drink. Ek stem hartlik in, want ek ken toe nou ook vir Pierre Spies. En nee, nie die bloubul nie, die Mynman, Pierre Spies. Met ons almal wat so honger is vir stories en goeie tye, raak dit toe nou een vir die boeke!

Met net 'n paar ure se slaap in, het ons die Saterdagoggend die grondpad aangedurf Vanderbijl toe. In die kar hervat ons gesprekke oor waarheen die industrie op pad is, en net sommer lekker algemene flou grappe en comebacks.  Met Desmond en Tanya wat rooi tapyte uitgerol het as gasheer en gasvrou, kon ons nie verkeerd gaan nie.

Ons stop die aand by Horse & River in Vanderbijl en die plek het reeds sy beperkte hoeveelheid bereik. Redelik opgewonde sluit ons toe die toer af op 'n noot wat ek lanklaas beleef het. Mense wat saamsing, albums koop, stories uitruil en die Hasselhoff van Vanderbijl aka Deon Meiring wat meer foto's geneem het as 'n model met haar eerste selfie-probeerslag. Een vir die boeke. Drie aande wat ek vir altyd sal onthou.

Dis 2021. Mei.

Ek is terug in Pretoria. En ek besef. Met 'n jaar wat soveel gesteel het, het ons nodig om mekaar weer in die oë te kyk. Nie onverantwoordelik nie. Maar met menslikheid. Mense het nodig om weer saam te sing. Ons het nodig om lewendig vir julle te sing. Nie op een of ander streaming platform of playlist nie. 

In die lawaai, daar tussen julle, is dit wat ons nodig gehad het om weer te leef, om te kan oorleef. Want sien 'n mens het basiese behoeftes, en 'n mens, sal altyd net 'n mens bly.

Sunday 21 March 2021

Dagbreek Doolhof: Deel 1

 


Ek dink jy is baie gelukkig, en deel van 'n uitsonderlike minderheid indien die virus jou nie geraak het nie. Ek en baie kunstenaars wêreldwyd was ongelukkig deel van die meerderheid. Gelukkig is dit in ons murg & pype om te skep, planne te maak, en op 'n manier (en in my geval met die hulp van vriende & familie) te oorleef.


Met Middernag Kantoor wat amper 'n jaar oud is (sonder dat daar enige album launch shows kon plaasvind), was ek by 'n kruispad. Oftewel, 'n back to square one. My eerste solo album is gebore, maar die virus het sy vryheid baie gedemp.

So wat doen mense wanneer hul eersteling 'n maat soek? Hulle maak 'n sussie!

Ek het besluit om planne te maak, reelings te tref- en met die genade en absolute gees van Johan Viljoen, begin ek in April opneem aan Dagbreek Doolhof- want dit is al wat vir my sin maak in hierdie onsekere tye- maak nog musiek, en inspireer die heelal!

Waar ek nou staan, is aan die begin van die Doolhof. Ons het soveel verloor, maar soveel geleer. Soos wat ek my pad gaan oopkap deur hierdie doolhof, wil ek baie graag die proses, die suksesse en struikelblokke met julle deel. Baie mense vra altyd hoe die proses werk.

Dagbreek Doolhof is in wording, met collaborations wat die dak gaan laat lig!

Klim op, maak jou gordel vas- en wees deel van hierdie reis:

Welkom by die skep van Dagbreek Doolhof.

Monday 15 February 2021

123 Blok myself

Vandag, twaalf maande terug, het ek die nooi van my drome gevra om met my te trou. Vandag, twaalf maande later, is sy wel getroud, maar nie met my nie.


Dit is, wat dit is.

My intensie met hierdie inskrywing is nie om simpatie te kweek by jou as leser nie. Maar eerder om een of twee dinge te deel wat ek in retrospek geleer het in hierdie laaste tyd. Of jy 'n man, of 'n vrou is. Ek hoop dit kan iets vir jou beteken, en as jy voel jy wil eerder jou kop self stamp, sterkte. 'n Mens dink altyd daardie artikels oor verhoudings is nie van toepassing op jou nie. Maar ons is almal mense, en mense is eintlik nie so ingewikkeld nie.

1. Dit bring my by my eerste punt. Lees. Lees soveel as wat jy kan oor mense, verhoudings. Neem daaruit wat jy wil, maar elke stukkie inligting kan jou iets leer, want niemand weet alles nie.

2. Love Language is real, en dis 'n ding. Ek het windgat my neus opgetrek, maar glo my- dit is belangrik om dit te verstaan. Gaan lees daaroor.

3. Praat met jou partner. Geen aannames nie. Sê wat jou pla. Ek weet dit klink voor die hand liggend, maar soms is mens bang om eerlik te wees. Ons leef in 'n gemoderniseerde wêreld. Tog is ons behoeftes steeds baie primitief. Onthou dit.

4. Be kind. Ek sê dit weer, be kind. Konflik word bitter min uitgesorteer met 'n gevloek en geskree.

5. Bid saam. Ek wens ons het meer saam gebid.

6. Moenie mure bou nie. Ek sukkel baie keer om te praat, veral wanneer dinge moeilik gaan. Weereens, punt nommer 3, en as jy sukkel, punt nommer 1.

7. Finansies. Ek glo nie ek hoef meer te sê nie.

8. Stel saam doelwitte op. Vir jul albei en vir jul verhouding. Check gereeld in, individueel & waarnatoe jul verhouding beweeg. Niks is perfek nie, en daar sal altyd struikelblokke wees. Ondersteun mekaar. Probeer om eerder te bou as te breek, dit maak die wêreld se verskil.

9. Wees versigtig vir sosiale media. Almal maak die fout om te dink dat dit so goed gaan met almal. Ek was deel van daardie probleem, en sal hopelik met my volgende verhouding nie so prominent op sosiale media wees nie. Daardie 10 likes is lekker om te kry, maar pasop dat dit nie jou enigste bron van oortuiging word nie.

10. Besef wat belangrik is.

11. Maak genoeg tee. Jy weet nie wanneer dit die laaste keer mag wees nie.

12. Ware liefde, is Goddelik. Bewaar dit. Baklei elke dag daarvoor.


Nou ja, kortliks, is dit my 12c. 'n Sent vir elke maand. Selfs al gebruik jy net 5c daarvan, sal dit help om die prys te betaal. Want glo my, daar is altyd 'n prys te betaal.

Vandag een jaar terug het ek die nooi van my drome gevra om met my te trou. Vandag, een jaar later, is sy wel getroud, maar nie met my nie, en ek- wel ek word elke dag gesond, en nog 'n beter weergawe van myself!

Wednesday 27 January 2021

Rooskleurige ambisie


Geen innige simpatie,
of dood voor die oë sweer nie,
geen lied of al wat leef
laat verdwyn die pyn van hierdie leed nie-
geen een aand se wyn,
of saampraat en samesyn,
laat verdwyn die spyt so wyd nie-
is dit die dealer wat deal?
tog herken ek daardie oë in die spieel?
maar nee 'n jong man weet-
wat goed en reg is,
of hy dink hy weet-
want wat tyd geneem het
kom steel slaap en klim saam in die bed-
die geskenk lankal nie meer nie
geen salf te smeer nie.
geen antwoord vir die seer nie.
geen ring aan die vinger meer nie.
geen droom sonder haar gesig meer nie-
geen haar gesig meer nie.
geen haar gesig meer nie.


Tuesday 12 January 2021

Brief aan 'n onverskrokke hart

Die kamers van die hart. Wat 'n absolute skatkis, vol diep donker fasette. 'n Mens sukkel self soms om jou eie kamers oop te sluit, wat nog daarvan om iemand in te nooi. Sal 'n mens dan ooit genoeg sitplek hê? Is mens heeltemal opgewasse vir hierdie kuiergas? Hoe lank gaan die persoon bly? Is daar genoeg beddegoed? Wat eet die persoon, wat is die persoon se behoeftes en voorkeure? Dan skarrel mens om seker te maak alles is in plek. Al die ou skottelgoed gewas, swartsakke uitgesit, en alles is mooi skoon vir hierdie persoon. Geen teken van vorige gaste nie. Alles is reg, net vir hierdie gas. Nou kuier ons lekker. As jy gelukkig is, bly die persoon langer. Dalk 'n paar maande, jare. As jy werklik gelukkig is, vir 'n leeftyd.


Ek het 'n kuiergas gehad. Aanvanklik kon ek my oë nie glo nie. Deurmekaar, vuil en eintlik glad nie reg daarvoor nie, het ek verwoed skoongemaak. Ek het hierdie modern day Mona Lisa en godin ingenooi. Tee gemaak, en ons het gekuier. Ons het aande omgekuier, wyn gedrink, musiek geluister en mekaar geniet. Dae het weke geword, maande het jare geword. Daar was sy, my beminde, my muse- 'n permanente inwoner in my binnekamer.

Soos enige hart is daar hoeke en draaie, geheime paaie. Mens jaag op soek na niks. Terwyl alles wat jy eintlik nodig het reg voor jou oë staan. So verwaarloos 'n mens daardie kamer. Stadig maar seker. Die gas kuier dalk nie meer so lekker nie. Daar is probleme met die wasgoed, die kombuis, skottelgoed hoop op en die vloere bly vuil. Dit lyk dalk nie meer soos wat dit aan die begin gelyk het nie. 

Die kamers van die hart. Wat 'n absolute skatkis vol diep donker fasette. 'n Mens sukkel self soms om jou eie kamers oop te sluit, wat nog daarvan om iemand in te nooi, en as jy jou oë uitvee, staan hy weer dolleeg. Stil. 

Die kamer is rooi
die kamer is dood
die kamer is blou,
die kamer is groot.

Daar lê wynspatsels
op ‘n ongeverfde doek,
daar lê droë kwasse
wat stil-stil lê en soek-

Die kamer is rooi
Die kamer is dood
Die kamer is blou,
Die kamer is groot-

Aan hierdie onverskrokke hart- wees sterk. Dapper. Ruk daardie matte uit, en teël jou vloere met standvastigheid. Breek jou mure sodat dit 'n oopplan is sodat die lig kan inskyn. Was daardie opgehoopte skottelgoed en koop vir jou 'n wasser. Maak oop jou vensters. Ruik die vars lug- en wanneer dit weer tyd is vir 'n kuiergas, sal jy weet.

Die kamers van die hart. Wat 'n absolute skatkis. Wat 'n voorreg is dit nie.

Liefde,
Jako