Wednesday 27 January 2021

Rooskleurige ambisie


Geen innige simpatie,
of dood voor die oë sweer nie,
geen lied of al wat leef
laat verdwyn die pyn van hierdie leed nie-
geen een aand se wyn,
of saampraat en samesyn,
laat verdwyn die spyt so wyd nie-
is dit die dealer wat deal?
tog herken ek daardie oë in die spieel?
maar nee 'n jong man weet-
wat goed en reg is,
of hy dink hy weet-
want wat tyd geneem het
kom steel slaap en klim saam in die bed-
die geskenk lankal nie meer nie
geen salf te smeer nie.
geen antwoord vir die seer nie.
geen ring aan die vinger meer nie.
geen droom sonder haar gesig meer nie-
geen haar gesig meer nie.
geen haar gesig meer nie.


Tuesday 12 January 2021

Brief aan 'n onverskrokke hart

Die kamers van die hart. Wat 'n absolute skatkis, vol diep donker fasette. 'n Mens sukkel self soms om jou eie kamers oop te sluit, wat nog daarvan om iemand in te nooi. Sal 'n mens dan ooit genoeg sitplek hê? Is mens heeltemal opgewasse vir hierdie kuiergas? Hoe lank gaan die persoon bly? Is daar genoeg beddegoed? Wat eet die persoon, wat is die persoon se behoeftes en voorkeure? Dan skarrel mens om seker te maak alles is in plek. Al die ou skottelgoed gewas, swartsakke uitgesit, en alles is mooi skoon vir hierdie persoon. Geen teken van vorige gaste nie. Alles is reg, net vir hierdie gas. Nou kuier ons lekker. As jy gelukkig is, bly die persoon langer. Dalk 'n paar maande, jare. As jy werklik gelukkig is, vir 'n leeftyd.


Ek het 'n kuiergas gehad. Aanvanklik kon ek my oë nie glo nie. Deurmekaar, vuil en eintlik glad nie reg daarvoor nie, het ek verwoed skoongemaak. Ek het hierdie modern day Mona Lisa en godin ingenooi. Tee gemaak, en ons het gekuier. Ons het aande omgekuier, wyn gedrink, musiek geluister en mekaar geniet. Dae het weke geword, maande het jare geword. Daar was sy, my beminde, my muse- 'n permanente inwoner in my binnekamer.

Soos enige hart is daar hoeke en draaie, geheime paaie. Mens jaag op soek na niks. Terwyl alles wat jy eintlik nodig het reg voor jou oë staan. So verwaarloos 'n mens daardie kamer. Stadig maar seker. Die gas kuier dalk nie meer so lekker nie. Daar is probleme met die wasgoed, die kombuis, skottelgoed hoop op en die vloere bly vuil. Dit lyk dalk nie meer soos wat dit aan die begin gelyk het nie. 

Die kamers van die hart. Wat 'n absolute skatkis vol diep donker fasette. 'n Mens sukkel self soms om jou eie kamers oop te sluit, wat nog daarvan om iemand in te nooi, en as jy jou oë uitvee, staan hy weer dolleeg. Stil. 

Die kamer is rooi
die kamer is dood
die kamer is blou,
die kamer is groot.

Daar lê wynspatsels
op ‘n ongeverfde doek,
daar lê droë kwasse
wat stil-stil lê en soek-

Die kamer is rooi
Die kamer is dood
Die kamer is blou,
Die kamer is groot-

Aan hierdie onverskrokke hart- wees sterk. Dapper. Ruk daardie matte uit, en teël jou vloere met standvastigheid. Breek jou mure sodat dit 'n oopplan is sodat die lig kan inskyn. Was daardie opgehoopte skottelgoed en koop vir jou 'n wasser. Maak oop jou vensters. Ruik die vars lug- en wanneer dit weer tyd is vir 'n kuiergas, sal jy weet.

Die kamers van die hart. Wat 'n absolute skatkis. Wat 'n voorreg is dit nie.

Liefde,
Jako