Sunday 27 December 2020

Genade is 'n driegangmaaltyd

Ek is altyd opgewonde wanneer ek die voorreg kry om aan te sit vir 'n driegangmaaltyd. Die voorgereg is nou nie altyd iets waarvan mens hou nie, maar dit forseer jou gewoonlik uit jou gemaksone. Daardie stukkie salm met die degie wat lyk soos die mooiste papawer blommetjie. Die hoofgereg blaas jou gewoonlik weg met die sappigste fillet, of hoender wat voorberei word met net die beste bykosse en souse. 


Lekker trommeldik geëet, maar o genade, die nagereg kom nog! Met my tweede onderste knoop wat altyd bietjie oopspring, sluk ek my laaste bietjie wyn, en verdwyn met 'n glimlag op my gesig.

'n Driegangmaaltyd, is 'n voorreg.

In hierdie wêreld is jy niks gewaarborg nie. Vandat jy jou oë oopmaak as pap babatjie, is jy nie ouers gewaarborg nie. Wat nog van ouers wat jou liefhet. Om gesond te kan wees, skool te kan gaan, vriende te kan hê, lief te kan hê- is nie 'n waarborg nie. Om 'n dak oor jou kop te hê met 'n bord kos is nie gewaarborg nie. 

Ek moet eerlik wees- ek dink nie ek het al ooit die woord 'grace' oftewel 'genade' begryp nie. Koos Doep sing, 'wat ek is, is net genade, wat ek het is net geleen'. Hoeveel keer het ek deur hierdie song geluister sonder om regtig te verstaan wat hy bedoel.

Baie van ons het gesuffer hierdie jaar. Soveel verloor. Of dit nou slegte lewensbesluite, covid of net bad luck was. Maar as daar nou een ding is wat ek geleer het, is dat ek nie geregtig is op enigiets nie. Hoe lank leef ek met hierdie gevoel dat ek geregtig is. Dat ek alles verdien, en opstandig raak as ek iets nie kry nie. Soos 'n kind met te veel speelgoed. Dis sommer bullshit man. Alles wat ek het of gehad het was genade uit die hand van God. Vergifnis. Alles. Elke. Liewe. Dingetjie. Sonder dat ek enigiets verdien. Want hemel, trial & error en sonde, is my middelnaam.

Genade is 'n voorreg. 'n Driegangmaaltyd waarvoor ek vir die res van my lewe, elke oggend op my knieë sal wees.

Genade & vrede vir julle,
Jako