Monday 15 February 2021

123 Blok myself

Vandag, twaalf maande terug, het ek die nooi van my drome gevra om met my te trou. Vandag, twaalf maande later, is sy wel getroud, maar nie met my nie.


Dit is, wat dit is.

My intensie met hierdie inskrywing is nie om simpatie te kweek by jou as leser nie. Maar eerder om een of twee dinge te deel wat ek in retrospek geleer het in hierdie laaste tyd. Of jy 'n man, of 'n vrou is. Ek hoop dit kan iets vir jou beteken, en as jy voel jy wil eerder jou kop self stamp, sterkte. 'n Mens dink altyd daardie artikels oor verhoudings is nie van toepassing op jou nie. Maar ons is almal mense, en mense is eintlik nie so ingewikkeld nie.

1. Dit bring my by my eerste punt. Lees. Lees soveel as wat jy kan oor mense, verhoudings. Neem daaruit wat jy wil, maar elke stukkie inligting kan jou iets leer, want niemand weet alles nie.

2. Love Language is real, en dis 'n ding. Ek het windgat my neus opgetrek, maar glo my- dit is belangrik om dit te verstaan. Gaan lees daaroor.

3. Praat met jou partner. Geen aannames nie. Sê wat jou pla. Ek weet dit klink voor die hand liggend, maar soms is mens bang om eerlik te wees. Ons leef in 'n gemoderniseerde wêreld. Tog is ons behoeftes steeds baie primitief. Onthou dit.

4. Be kind. Ek sê dit weer, be kind. Konflik word bitter min uitgesorteer met 'n gevloek en geskree.

5. Bid saam. Ek wens ons het meer saam gebid.

6. Moenie mure bou nie. Ek sukkel baie keer om te praat, veral wanneer dinge moeilik gaan. Weereens, punt nommer 3, en as jy sukkel, punt nommer 1.

7. Finansies. Ek glo nie ek hoef meer te sê nie.

8. Stel saam doelwitte op. Vir jul albei en vir jul verhouding. Check gereeld in, individueel & waarnatoe jul verhouding beweeg. Niks is perfek nie, en daar sal altyd struikelblokke wees. Ondersteun mekaar. Probeer om eerder te bou as te breek, dit maak die wêreld se verskil.

9. Wees versigtig vir sosiale media. Almal maak die fout om te dink dat dit so goed gaan met almal. Ek was deel van daardie probleem, en sal hopelik met my volgende verhouding nie so prominent op sosiale media wees nie. Daardie 10 likes is lekker om te kry, maar pasop dat dit nie jou enigste bron van oortuiging word nie.

10. Besef wat belangrik is.

11. Maak genoeg tee. Jy weet nie wanneer dit die laaste keer mag wees nie.

12. Ware liefde, is Goddelik. Bewaar dit. Baklei elke dag daarvoor.


Nou ja, kortliks, is dit my 12c. 'n Sent vir elke maand. Selfs al gebruik jy net 5c daarvan, sal dit help om die prys te betaal. Want glo my, daar is altyd 'n prys te betaal.

Vandag een jaar terug het ek die nooi van my drome gevra om met my te trou. Vandag, een jaar later, is sy wel getroud, maar nie met my nie, en ek- wel ek word elke dag gesond, en nog 'n beter weergawe van myself!