Sunday 15 December 2013

Vaarwel Madiba, Potch en 2013..


 
'Daar is 'n tyd van kom, en 'n tyd van gaan. Dit het ek gelees maar hoe sal ek dit ooit verstaan?'. Hierdie woorde van Laurika klop al 'n geruime tyd aan my deur. En hoe meer ek daarvan af wil wegkom, hoe meer spook dit by my. Ons hou mos nie van verandering nie. Ons hou daarvan om te behoort, en om veilig te voel. Miskien is dit in die arms van 'n geliefde, of miskien in die gemak van jou binnekamer.

2013 was egter vir my 'n jaar vol onveiligheid en interessante verrassings. En ek weet vanuit talle gesprekke met baie van julle, dat julle deel in my ervaring.

Vir tien jaar was my voete geanker in die pragtige akkerstad, Potchefstroom. Daar het ek geleer soen, musiekmaak en die betekenis van John-Henry se woorde: 'slimpraatjies met Proffies' in diepte leer verstaan. Ek het my mense daar ontmoet. Ek het my mense daar gegroet.

Gelukkig skryf elkeen sy eie storie. Ons self bepaal met watter pen, en in watter skrif. Ons self bepaal wie ons inskryf, wie ons uitskryf, of ons gaan terugblaai & doodkrap, en of ons eerder 'n nuwe boek gaan begin skryf. Dit is iets wat Madiba vir my geleer het, wat ek vir altyd saam met my sal dra. Dat ek self oor die krag beskik om 'n beter mens te wees, en met kennis & wysheid van die verlede, die regte storie te skryf.

Vriende, ek groet julle in 2013 met 'n dankbare hart. Dankie vir elke bietjie ondersteuning, met elke song, elke show, en elke stukkie teks.

Die van julle wat ek gegroet het, miskien sal ons paaie weer kruis. Die van julle wat ek ontmoet het, kom loop saam met my die pad. Want wat is ons stories tog werd sonder mekaar.
Ek wens elkeen van julle 'n besonderse nuwejaar toe. Ek drink graag 'n glas wyn op elkeen van julle. Ek sluit af met iets wat ek geskryf het vir Potchefstroom. As alles goedgaan behoort ek hom in 2014 vir julle te sing :-)
 
 
 
 
 
Mooirivier
 
Ek het geloop
op die grond waar liefde wen,
in die hartjie van die aardklop
onder die bal van Totius se pen..

Ek het geleer wat,
wat vrede is vir myself..
oor Calvyn en Kerkorrel,
is daar diep, diep gedelf..

So stuur my in 'n rigting,
want stroom-op sal ek bly..
eenmaal in altyd
vloei die Mooirivier deur my..

Jy praat met my,
en jy vat my om die lyf..
jou aande oor die bulte
hou ek in my arms styf..

So ek sing vir jou,
sodat die reen jou sal oorval..
totdat die sonskyn en die blare
op jou kinders neer sal daal..
 
 
 
Groete & Liefde,
Jako