Monday 14 June 2021

Ons is Middernagbewoners

  

 

Met 'n oordonnerende gevoel van opgewondenheid is ek en Austin Hulme twee Donderdae terug hier weg. Met sewe vertonings in twee weke, het dit vir 'n oomblik gevoel asof dinge weer terugkeer na normaal. Vinnig het die Noord-Kaapse grens op die Oranjerivier daardie gevoel gedemp met 'n pap wiel as verwelkoming. Na 'n gesukkel is ek en Austin deur die gasvryheid van tannie Jackie by Horse & Mill gastehuis in Colesberg ontvang. Vroeg uit die vere moes ons toe wikkel om betyds te wees vir 'n onderhoud by Bok radio. Ons stop op Beaufort, om nog 'n band aan te skaf. Mense maak oor die algemeen die aanname dat Deon Meyer, deel is van die Jako Meyer & Deon Meiring toer. Nadat ek vir die vriendelike man wat ons toe nou help met die wiel, verduidelik dat Deon Meyer wel nie my pa is nie- is ons daar weg. 

 Met die onderhoud wat reeds begin het met Deon (Meiring), het ek & Austin dit darem gemaak. Kyk, die Kaap is nou maar net betowerend. Daardie berge, dale, wingerde en gange- Met Deon & Zinelda wat ons soos Konings inwag, het ons die skoonheid van hul tuiste in Wellington ingeasem. 

 

Die eerste van ons vertonings was vir 'n groep tieners in Wellington. Ons moes hard werk om hulle oor te wen. Maar ons het. Daardie aand het ons vir Deon skade gemaak met 'n paar bottels Wolftrappe, en gefilosofeer oor menswees, die bedryf en waarheen ons op pad is.

 

Marianne Wynplaas was volgende op die spyskaart. Met 'n vol gehoor was die toer in volle swang. Deon se set was vuurwarm, en dit was veral lekker om ou vriende soos Babette Viljoen weer in die gehoor te sien. Die aand het op 'n hoogtepunt geindig met uitstekende wyn, in die Meirings se kombuis.

 

Die Sondagoggend vroeg vertek ons na die Strand vir 'n huiskonsert by Danie van der Merwe se huis. Met die koue Kaapse luggie, braaivleisvure wat oor die erf trek, sluit ons die Kaapse been van ons toer af met stories, nuwe vriende en samesyn soos net die Kapenaars dit kan doen.

 

Na 'n week se rus, het ek vir die eerste keer my eie materiaal met 'n vol band gespeel by Teen die Water, saam met Spoegwolf. My maat Marno van der Merwe is die breinkrag agter hierdie geleentheid. Na twee lekker shows, was dit tyd om bietjie op te vang met die Spoegwolf ouens, en nuwe vriende wat ons backstage ontmoet het. Ek, Albert, Hiram & Johan Viljoen is amper toe nou daar weg saam met mense op 'n boot- gelukkig het dit nie uitgewerk nie- anders was ons dalk nou nog iewers op die rivier.

 

Ons het die toer hierdie naweek afgesluit met 'n vreemde show in Vanderbijl, en een vir die boeke by Divan Coetzer van Buuren se TLC on the Track in Sandton.

 

Te midde van die derde vlaag, was dit so lekker om weer bande met mense op te tel, saam te lag, saam te huil, en net weer klank te kon maak op 'n verhoog. Dankie aan almal wat aandeel daarin gehad het. Van hier af is ek terug in studio, met 'Ek vier jou, ek groet jou' wat binnekort vrygestel word.

 

Ons is Julie weer op die pad- tot dan, wees veilig, lief vir mekaar & draai die musiek kliphard.

 

 

Liefde,

Jako

 

 

 

 

              

 

 

 

                           

 

                           

 

                                      

 

 


No comments:

Post a Comment