Dis 2012. Desember.
Ons is op een moerse toer. Negentien dae, vyftien shows. Tientalle bands. Show nommer dertien, two to go.
Teen hierdie tyd is ek redelik uitgekuier en soek 'n hoekie in Mosselbaai se Barnyard, net om bietjie asem te skep. Ek loop in Deon Meiring van Glaskas vas. Hy het min of meer dieselfde idee. Om net 'n bietjie weg te breek van die party.
Ons gaan sit, bestel 'n bottel rooiwyn, en gesels digkuns, filosofie in musiek en net allerhande lekker dinge. In die stilligheid, is dit wat ek en hy daardie aand nodig gehad het om te oorleef, want sien, 'n mens het basiese behoeftes, en 'n bly 'n mens.
Min het ek geweet ons sou goeie vriende word, en later sommer ook teaterprojekte saam aanpak in die vorm van die Wyndigters. Deur die grendeltydperk was daar talle skypesessies om positief te probeer bly. Ons is daardeur, en nou, is ons besig om daaruit op te staan.
Na 'n lang ruk van stilte sonder enige shows, het ons besluit om verlede week drie shows te speel. Ek, Deon, en Austin Hulme saam met my op kitaar.
Die Donderdagaand was ons in die Afriforum teater (die ou Brooklyn teater). Wat 'n vars asem! Mens stap in die mooiste voorportaal in. Professionele personeel, met Carien wat die teater seepglad bestuur. Soveel van my alternatiewe vriende is maar nog sku, omdat dit die Afriforum teater is. Al wat ek sê is dat mens nie met alles van die organisasie hoef saam te stem om te sien dat hulle die kunste wil bevorder nie. Min ander rolspelers het opgestaan om werklik iets daadwerklik te doen vir die kunste in hierdie tye.
Ek het die aand begin met 'n lekker gehoor. Een van die moeilikste shows van my lewe, na my verlowing wat verbrokkel het. Vir die eerste keer in ses jaar, was sy nie in die gehoor nie. Nadat ek 'Ingelein' in die set oorleef het, was dit gelukkig 'n fees.
Deon was op na my en die gehoor was soos duiwe wat vir die eerste keer in 'n lang ruk sielskos gekry het. Met sy stories oor Sunnyside & liriekbelaaide solo-materiaal, het die aand op 'n hoë noot geeindig.
Vrydag is ons vroeg uit Pretoria uit om in Texas Bar, Potchefstroom te speel. Na 'n besige dag is ons na die venue toe om deur die legende homself, Jonathan Wayne ontvang te word. Rooksein speel voor ons. Ek doen 'n lekker set, met die studente wat hier en daar skadu's van Moses Metro Man onthou. Deon kom op en gooi Potch papnat met sy Glaskas & Dans Dans Lisa treffers. Ons sing Hillbrow saam, en eindig met 'n collab van 'Gisteraand'.
Op pad huistoe, gryp Deon my, en stel voor dat ons een laaste glas wyn by sy familie moet gaan drink. Ek stem hartlik in, want ek ken toe nou ook vir Pierre Spies. En nee, nie die bloubul nie, die Mynman, Pierre Spies. Met ons almal wat so honger is vir stories en goeie tye, raak dit toe nou een vir die boeke!
Met net 'n paar ure se slaap in, het ons die Saterdagoggend die grondpad aangedurf Vanderbijl toe. In die kar hervat ons gesprekke oor waarheen die industrie op pad is, en net sommer lekker algemene flou grappe en comebacks. Met Desmond en Tanya wat rooi tapyte uitgerol het as gasheer en gasvrou, kon ons nie verkeerd gaan nie.
Ons stop die aand by Horse & River in Vanderbijl en die plek het reeds sy beperkte hoeveelheid bereik. Redelik opgewonde sluit ons toe die toer af op 'n noot wat ek lanklaas beleef het. Mense wat saamsing, albums koop, stories uitruil en die Hasselhoff van Vanderbijl aka Deon Meiring wat meer foto's geneem het as 'n model met haar eerste selfie-probeerslag. Een vir die boeke. Drie aande wat ek vir altyd sal onthou.
Dis 2021. Mei.
Ek is terug in Pretoria. En ek besef. Met 'n jaar wat soveel gesteel het, het ons nodig om mekaar weer in die oë te kyk. Nie onverantwoordelik nie. Maar met menslikheid. Mense het nodig om weer saam te sing. Ons het nodig om lewendig vir julle te sing. Nie op een of ander streaming platform of playlist nie.
In die lawaai, daar tussen julle, is dit wat ons nodig gehad het om weer te leef, om te kan oorleef. Want sien 'n mens het basiese behoeftes, en 'n mens, sal altyd net 'n mens bly.