Thursday 25 August 2011

Avontoer

Om te dagdroom is 'n gawe. Veral oor die verlede. Die ou dae wat die lyne op jou gesig trek. Die dae wat veroorsaak dat jy kennis opbou en die uiteindelik 'n produk vol karakter vorm. In die jaar 2007 het ek in 'n band gespeel met die naam Reaanrottweiller, wat later na Die Rottweilers verander het. Ons was rof, rou en het ontplof van passie. Daardie jaar het ek die coolste ouens ontmoet. Die manne van Zinkplaat en De Plate Kompanje. En dit is waar ek besef het musiek in jou are is verslawend. Hierdie ouens het my voorgestel aan die Avontoer. Twee weke, twee busse, tien bands, kaste vol Tassenberg, en warm harte vol gees.'n Rock en Roll toer deur die kus. Ek dink nie ek kan dit beskryf nie. Mens moet dit maar net self beleef. Vandag dagdroom ek oor die Avontoer. Oor die voorreg om twee van hulle te kon beleef het. Met kamarade wat vir altyd die stories sal vertel. Hier is my storie.

Avontoer

'twee lang slap busse
gevul met tientalle orkeste
oppad na die hemele'

Donnerse malheid as jy my vra.
Seerowers sonder skaamte
wat vervierdubbel 
onder vleuels vuurwerke van klank.

Rock en Roll in ons land,
-in ons taal.
dit is hoe ek dit sal onthou.

Ek was daar,
twee keer.
Twee honderd kaste tas,
hare, kitare en groen blare.
Van Strandfontein na Stilbaai,
Hermanus na Mosselbaai..

Daar het ek my voete geanker,
in Kaapse seesand en musiek.
Kilometers op die wiele,
en liefde vir ander se siele-
vasgebliksem deur daardie vriendskappe,
van 'n handjie vol gelowiges,
in dit wat hul dra,
op mou en in gees-
op die pad na die volgende dorp se fees.




















































No comments:

Post a Comment