Wednesday 17 August 2011

Ek koop eerder vir my 'n perd

Hierdie is my eerste volwaardige inskrywing. Gedryf deur die inspirasie verkry na die afloop van die naweek se intervarsity in Potch. Die byeenkoms waar dames heuning aan hul kaalbasboudjies smeer, en die jagse jagerjagters deur poele testosteroon swem om rondom hulle te swerm. Die meeste van die manne was groot van postuur. Fietsfiks, gesny tot in elke spier, besig om te poseer soos 'n hoenderhaan met 'n pou se fleur wat afgerond word deur daardie stuk kuif aan die agterkant van sy kop.

Die meerderheid van die hane het egter mooi ingesmelt met die massas. Hulle sê mos, as jy die massas volg, verdwyn jy onder hulle. Tog was daar uitsondering met manne wat wil uitstaan. Die ouens wat dag en nag werk en spuit om nek en skouers bo die res uit te staan. Die manne met bo-natuurlike bulte wat meer steil is as Polly Shorts van die Comrades Maraton. En dit is waar my vraag inkom...

Ek is gemiddeld gebou. Kort van lengte, lank van draad. Ja, ek is 'n geduldige ou. Ek draf gereeld en verbeel my dat ek die lyf van John Travolta in Grease najaag. Ek kyk op na mense wat elke dag pligsgetrou in die gimnasium uitkom.  Maar dit is nie my punt nie.

My vraag is, wat besiel 'n mens om 'n middel in jou lyf in te pomp waarop daar staan: ' Slegs vir beeste en perde'? Ek het regtig probeer om my kop te laat gaan daaroor en myself in die lyf van 'n spierkas te verbeel. Miskien is dit 'n beroepsbesluit? Soos wat mense besluit om dokters en prokureurs te word. In hierdie geval net 'n bouncer vir 'n klub, of 'n sterkman wat trokke optel vir 'n lewe? Of miskien 'n bodybuilder? Moenie my verkeerd verstaan nie, ek het die grootste waardering vir die bogenoemde beroepe, want hul verskaf ook vermaak. Ek het net eerlik gedink die uitdaging lê daarin om op 'n natuurlike wyse sukses te bereik?

Ek dink die skoner geslag speel verseker ook 'n rol. Oerjare terug was dit al die jagter se prioriteit om sy bokkie te vang. En in my opinie was hul suksesvol deur net te wees. Ek dink die hane van ons era het die waarde van persoonlikheid by die venster uitgegooi. Self-esteem en selfvertroue word deesdae gemeet aan die bulte op jou lyf. En dit is juis nie hoe jy die kompetsie om, en in jou gaan oorwin nie.


Met hierdie gedagte probeer ek nie negatiewe oordeel uitspreek nie. Ek probeer net agter die kap van die byl kom van wat die denkwyse is agter daardie besluit. Die gevolg is dat ek woorde soos newe-effekte en 'n gratis humeur glad nie ingesluit het by my poging om te probeer verstaan nie.


Een ding is verseker, ek koop eerder vir my 'n perd of 'n paar beeste.
 




No comments:

Post a Comment