Monday 22 August 2011

Peter Pan

Ek sit hier by 'n  koffiehuis in my alma mater dorp, Potchefstroom. Deurgans filtreer die geruis en gesuis van studente, lovers en belangrike besigheidsmanne. Soos wat ek 'n sluk vat van my grootste verslawing, belaai met kaffeine en ingekleur met 'n hazelnut geur, kan ek nie help om 'n terugblik van my kelnerdae te koester nie. Twee jaar van my lewe het ek hier deurgebring. Die laaste van my deurmekaar studentedae, en die begin van my lewe as jong, arm kunstenaar. Ongelukkig is dit die voorland van die meeste van ons kunstenaars, totdat jy 'n volwaardige break gekry het. As daar so iets bestaan soos 'n 'break'. Die feit bly staan almal het rekeninge om te betaal, entertainers ook. Mense is geneig om net die finale produk te beskou, en te dink dat alles sex, drugs en rock&roll is. As ons maar net die geld daarvoor gehad het.

Nietemin is ek ewig dankbaar vir die afslag op kos, huurgeld en natuurlik wyngeld wat ek as kelner verdien het. Maar meer as dit, is ek dankdaar vir die vaardighede wat ek opgebou het as kelner.

Om te kelner is vir baie mense 'n vernederende werk, wat ek kan verstaan. Geen titel word jou toegevoeg nie, en 'n kwalifikasie word nie vereis nie. Maar, die sogenaamde 'belangrike mense' wat met hierdie oordeel staf rondloop, vergeet dat hulle eintlik so weerloos is voor 'n kelner. Die kelner staan heeltemal objektief en beleef hoe skandelik, nors en onbeskof mense optree. Geen beter bepaling van 'n mens se persoonlikheid kan getref word wanneer daar opgetree word teenoor vreemdelinge nie. Veral nie die kelner nie. Mense doen nie die moeite om maskers te dra voor kelners nie. Want wie de donner is die kelner nou eintlik? Die kelner is daardie persoon wat jou ware kleure objektief raaksien.

Behalwe vir die geduld wat mens opbou, leer mens ook om daardie ongemaklike oomblikke te verwerk. Soos byvoorbeeld daardie oomblik wanneer kliënte hulle familie probleme in die openbaar uitklaar. Daardie intervensie teenoor die rebelse tienerdogter. Die gevolg 'n tranedal erger as 'n storm in die wreedste heks se teekoppie.En op 'n manier moet jy Peter Pan speel.

Daardie oomblik waar die egpaar op die rotse staan en probeer red wat te redde is. Dadelik voel mens soos die voortsittende beampte wat moet uitspraak lewer. Hierdie is gewoonlik baie opwindend. In so 'n mate dat mens nie eetgerei wil voorlê vir die ete nie en juig as hulle uitstap sonder dat daar moord gepleeg is.

Daardie oomblik waar jy die middelman is vir die 'eerste date' en die bestelling die meeste is waaroor hulle het om oor te praat. Die grappigste is wanneer die manlike figuur probeer beïndruk, en sy laaste snoepiegeld gebruik net om te wys dat hy kan bekostig om 20% te tip.

Die ergste vir my is wanneer mense op verskriklike powertrips met jou praat asof  jy geen taal in die wêreld kan verstaan nie.Min weet hulle dat die kelner dalk miskien meer gekwalifiseerd is as hulle. Hulle praat neerhalend, herhalend en herhaal nog 'n keer. Hulle antwoord ek nie gewoonlik nie, en speel eerder maar saam sodat hul darem iewers in die lewe belangrik voel.

My kelner dae was wonderlik. Ek sal dit vir niks verruil nie. Inteendeel dink ek elke mens moet dit een keer in sy/haar lewe probeer. Dit leer jou om ander te respekteer, met geld te werk en die konsep van dienslewering te verstaan. As die owerhede van ons land tog maar net elkeen vir 'n paar maande kon kelner.

Vir al die kliënte daarbuite, dit was 'n voorreg om julle te bedien. Onthou net een ding, moet nooit die moontlikheid uitsluit dat jou kelner miskien dalk net eendag jou baas kan word nie. Hanteer hulle met respek, en gee 'n minimum fooi van 10%, hulle lewer 'n diens aan jou.


















No comments:

Post a Comment